Een ding waaraan Henk Pretorius van Dark Matter Studios glo is die beginsel dat jy jouself eers in jou
eie land se vermaaklikheidsbedryf moet bewys voordat jy dit op enige ander plek
in die wêreld waag. Hierdie belowende filmmaker het in Maart 2014 twee SAFTA
nominasies ontvang: een as beste regisseur en een as medeskrywer van die
rolprent, Fanie Fourie’s Lobola. Die
toekenningsgeleentheid vind op 4 en 5 April 2014 plaas.
Pretorius het in 2011 sy stem dik gemaak in die
internasionale rolprentarena met sy regie van Fanie Fourie’s Lobola - soos reeds aangedui, was hy ook die
medeskrywer. Die fliek is in 2013 by drie verskillende feeste, onder andere die
belangrike Seattle Rolprentfees, aangewys as die gehoor se gunsteling. Die
fliek het ook die toekenning as die beste komedie by die 2013 Sedona
Rolprentfees in Arizona verower.
Pretorius is reeds 10 jaar lank besig om flieks vir die
Suid-Afrikaanse rolprentbedryf te maak en hy was die skrywer en regisseur van
die suksesvolle Bakgat 1 & 2
reeks. Pretorius se talent is ondermeer deur die Mail & Guardian raakgesien, en die publikasie het hom ingesluit
in die lys van 200 mees inspirerende jong Suid-Afrikaners van 2013. Nou stel
Pretorius sy visier op Hollywood met sy nuutste rolprent, Leading Lady.
Met hierdie projek span Pretorius kragte saam met die
Suid-Afrikaansgebore sakeman, Llewelynn Greeff. Die twee is mede-eienaars van
die suksesvolle produksiemaatskappy Dark
Matter Studios met kantore in Suid-Afrika en Brittanje. Greeff het aan die
Oxford Brookes-Universiteit gegradueer en verdeel sy tyd tussen Suid-Afrika en
Londen waar hy voortdurend op soek is na nuwe geleenthede.
In 2013 het Greeff vir Pretorius
aangemoedig om na Los Angeles te gaan en daar talent te soek vir Dark Matter Studios se internasionale
vlagskip-projek, Leading Lady, ’n liefdesverhaal
wat op twee kontinente afspeel. Na ’n soektog van ses weke tussen agente,
studios en akteurs was Pretorius uiteindelik oortuig dat hy die regte span vir
hierdie projek bymekaar gemaak het. Tans word daar gewerk aan die
naproduksie-fase van die fliek en binnekort word dit internasionaal vrygestel.
Die fliek spog met plaaslike sterre soos Bok van Blerk en Brümilda van
Rensburg. Hulle kry die kans om die kollig te deel met internasionale sterre
soos die Ierse aktrise, Katie
McGrath (Dracula,
Merlin), en die Hollywoodse akteur,
Gil Bellows (Ally McBeal, Shawshank Redemption).
Leading
Lady vertel die verhaal van
’n jong opkomende Britse aktrise, Jodi Rutherford, wat Kobus Willemse, ’n boer
van Brandfort, oorreed om haar te help om voor te berei vir die uitdagende rol
as ’n Afrikaanse oorlogsheldin in ’n Hollywoodse rolprent. In ruil daarvoor kry
sy die geleentheid om die jaarlikse konsert op Willemse se plaas te reël en die
regie te behartig. Jodi se interaksie met die bekoorlike dorpie Brandfort en sy
inwoners, asook die hardekwas Kobus, leer haar dat daar meer is in die lewe as
bloot net Hollywood met sy ligte, kameras en aksie! ...Of is daar?
Nadat Katie McGrath die draaiboek van Leading Lady gelees het, het sy dadelik
ingestem om teenoor Bok van Blerk in die fliek te speel. Almal het hierdie nuus
verwelkom want dis maar net nog ’n bewys dat die plaaslike mark geen tree hoef
terug te staan vir Hollywood nie. Wat dit nog meer opwindend maak, is dat
hierdie talentvolle aktrise onlangs teenoor Jonathan Reese Meyers in Dracula gespeel het.
Leading Lady tref
die plaaslike silwerdoek op 28 November 2014. Verspreiding vind plaas deur Ster
Kinekor Entertainment. Die voorsmakie lokprent vir hierdie fliek word op
Vrydag, 28 Maart 2014 vrygestel.
Om
meer uit te vind gaan na
Webblad:
www.leadingladymovie.com
Facebook: https://www.facebook.com/filmleadinglady
Twitter: @filmleadinglady / Hashtag: #arriving28Nov
Facebook: https://www.facebook.com/filmleadinglady
Twitter: @filmleadinglady / Hashtag: #arriving28Nov
0 comments:
Post a Comment